Wie ons is
Die Calvinistiese Alliansie is ’n Christelik-Protestantse beweging wat ontstaan het uit ’n diepgaande roeping om gelowiges te verenig wat hulself verbind tot die Woord van God, die Gereformeerde belydenis en ’n Calvinistiese lewens- en wêreldbeskouing. Ons funksioneer binne ’n tyd waarin baie gelowiges ’n Skrifvreemde en volksvreemde geestelike klimaat ervaar. Die Alliansie bied ’n geestelike tuiste waar rigting, waarheid en beginselvaste leiding weer sentraal staan.
Ons strewe is om gelowiges – veral binne Afrikaanse Calvinistiese kerke – toe te rus om met oortuiging, kennis en nederigheid volgens God se Woord te leef. Ons glo dat ’n gesonde samelewing begin by gelowiges wat hul roeping verstaan en uitleef.
Ons roeping en erfenis
Die Christelike geloof vorm ’n onlosmaaklike deel van ons volksgeskiedenis. Van die Van Riebeeck-gelofte (1654), tot die Bloedrivier-gelofte (1838) en die Paardekraal-verbond (1881), sien ons ’n duidelike getuienis dat ons volksplanting en volkswording diep in die Christelike geloof gewortel is.
Hierdie erfenis is nie bloot histories nie – dit is lewend en relevant. Die Alliansie wil gelowiges help om sonder skaamte terug te keer na hierdie Bybelse wortels en dit toe te pas in elke aspek van die lewe: kerk, gesin, werk, kultuur en samelewing.